26 j. se werk in vlamme op

Please log in or register to like posts.
News

Update
Port Elizabeth

’N FAMILIE se huis het afgebrand en ál wat hulle nou oor het, is die klere op hul rûe.Boonop het jong outjies die fridge, klere, ’n selfoon, ’n horlosie en selfs die hek weggedra terwyl die vlamme meters hoog baljaar het.Wat eens ’n vrolike woning was waar die familie belangrike gebeure gevier het, is nou ’n leë dop. Selfs begrafnisse en kerkdienste is in dié huis in Impatienceweg in Bethelsdorp, Uitbreiding 32, gehou.Gertrude Afrikaner (64), haar man, Christian (63), en sy ma, Gladyce Davids (85), woon al 26 jaar daar.Die brand het Maandag 16:30 uitgebreek en binne minute het die vlamme alles verwoes. ’n Vrou in dieselfde straat het geskree en die inwoners het uit hul huise gehardloop om te kyk wat aangaan.Die bure het tuinslange gebruik en emmers water aangedra om die vlamme te probeer blus.Maar nie almal het gehelp nie en stoute outjies het die huis leeggedra terwyl dit gebrand het.As dit nie vir die vinnige reaksie van die brandweer was nie, het die buurvrou Nateley Meyers se huis ook vlamgevat.Meyers sê dit het gelyk asof die brand by die agterste kamer ontstaan het en die vlamme was verskriklik hoog.Niemand weet hoe die brand begin het nie.Gertrude verduidelik sy het vleis gaargemaak toe sy ewe skielik net rook in die huis gesien het.“Die rook was so baie dat ek niks kon sien nie. Iemand het ons uit die huis gehelp.“Maar die outjies het ons goed weggedra. Die fridge met ál die vleis en juice wat ons sou gebruik het vir my verjaardag Saterdag.“Ek het vir 21 jaar by Cheshire Homes in Cleary Estate gewerk en het daai geldjies en my pensioengeld gebruik om die huis aan te bou – stuk vir stuk.Deurmekaar“Ek voel baie hartseer om alles so te verloor.”Haar twee broers se begrafnisdienste is in die huis gehou. Jeremy (26), haar seun, het sy matriekafskeid- en graduation-paartie sowel as sy 21st daar gevier.Die drie woon nou by Jeremy in Salt Lake.Christian het op die bed gelê en was te deurmekaar om te praat.Enige iemand wat kan help met geld, kos, beddens of klere, kan Son kontak by 041 503 6204.

https://www.son.co.za/Nuus/Ooskaap/26-j-se-werk-in-vlamme-op-20190226

Reactions

0
0
0
0
0
0
Already reacted for this post.

Reactions

Nobody liked ?

Leave a Reply

Your email address will not be published.