ANC kap stad oor tender

Please log in or register to like posts.
News
ANC kap stad oor tender

DIE Wes-Kaapse behuisingsminister, Bonginkosi Madikizela, sê daar was geen manier om te weet dat die maatskappy wat ’n behuisingstender in Valhalla Park gekry het, verbind is aan die beweerde leier van die 28’s-bende, Ralph Stanfield, nie.Stanfield se vrou, Nicole, is een van die direkteure van Glomix House Brokers. Dié firma is een van die ses boumaatskappye aan wie ’n tender van sowat R40 miljoen toegeken is vir die behuisingsprojek in die bendegeteisterde Valhalla Park.Dié Stad Kaapstad se behuisingsprojek om meer as 700 huise te bou is al in 2015 geloods.Die projek is egter gestop weens intimidasie deur bendes wat R300 000 “protection-geld” geëis het. Die provinsiale behuisingsdepartement het laas jaar die projek by die Stad oorgeneem.Nicole is al deur die jare verskeie kere met Ralph by hofverskynings en ander openbare verskynings gesien. Haar foto is al verskeie kere gepubliseer.Die Wes-Kaapse sekretaris van die ANC, Faiez Jacobs, sê hy is geskok om te hoor dat die multimiljoenrand-tender aan die vrou van ’n beweerde bendeleier toegeken is.Jacobs meen: “Hierdie is verdere bewyse van die DA se gemaklike verhouding met die onderwêreld.”Volgens Jacobs is daar geen manier hoe die DA-beheerde Stad se behuisingsdepartement kan sê hulle het nie geweet Nicole is Ralph se vrou nie.“Ons eis dat die kontrak onmiddellik opgesê word en die SAPD moet die tender dringend ondersoek,” sê hy. Madikizela sê die behuisingsdepartement sal die tender ondersoek.Die minister is egter gou om te sê die behoorlike prosesse ís in die toekenning van die tender aan Glomix House Brokers gevolg.“Die ANC is net desperaat om relevant te wees,” sê Madikizela.“Daar was geen manier om te weet of die vrou (Nicole) met ’n gangster verbind is nie.“Op die tenderdokumente is daar byvoorbeeld geen vrae soos ‘Is jy ’n rassis?’ of ‘Is jy ’n pedofiel?’ nie.”“Die vraag wat gevra moet word, is of daar behoorlike prosesse gevolg is.“Ek het dié vraag aan die departementshoof (Thando Mguli) gestel en hy het my verseker dat behoorlike prosesse gevolg is.“Die tender is geadverteer en die betrokke maatskappye het aansoek gedoen. Ek gaan nie eens my tyd mors deur op die ANC se beweringe te reageer nie.”Nicole wou nie kommentaar lewer nie.

Reactions

0
0
0
0
0
0
Already reacted for this post.

Reactions

Nobody liked ?

Leave a Reply

Your email address will not be published.