Trigger-happy trio moet wag | Die Son

Please log in or register to like posts.
Nuus

Update
Port Elizabeth

DIE moordverhoor van drie jong manne van die Baaise Northerns is dié week tot aanstaande maand uitgestel.Die drie beskuldigdes, Danielson Darries (24), Euwin­ Bardness (24) en Furdo April (24), is almal van Helenvale.Hulle staan tereg op twee klagte van moord, ses van poging tot moord en ’n klag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Die drie het nog nie op die klagte gepleit nie.Die klagstaat lui dat die slagoffer, Linton Tobie, op 23 September 2017 ’n passasier was in ’n rooi Caddy-bakkie met die registrasienommer CHZ 870 EC.Vyf van die klaers was ook passasiers in die bakkie. Op die noodlottige dag het die bakkie in Helenvale op die hoek van Pot- en Pienaarstraat stilgehou. Die beskuldigdes – wat aan die teenoorgestelde kant van die pad gestaan het – het toe verskeie skote op die insittendes gevuur. Toe die bullets begin fly, het die bakkie van die toneel af weggery.Tobie is toe na die Living­stone-hospitaal geneem. Daar is hy dood verklaar. Doel’n Nadoodse ondersoek deur dr. Gregory Hanslo het aan die lig gebring Tobie het gesterf as gevolg van ’n skietwond in die rug. Volgens die staat het die beskuldigdes met ’n gemeenskaplike doel opgetree.Luidens die klagstaat het die ander slagoffer, Justin Kariem Valen­tine, en nóg ’n persoon op dieselfde­ dag in Pienaarstraat in Helenvale gestap.Dis toe dat die beskuldigdes Valentine genader en verskeie skote op hom en die persoon by hom afgevuur het. Valentine is in die proses getref. Hy is na die Livingstone-hospitaal vervoer waar hy later dood verklaar is. ’n Nadoodse ondersoek deur dr. Hanslo het aangedui Valentine het gesterf weens ’n skietwond in die bors.Volgens die staat het die beskuldigdes ook in dié voorval met ’n gemeenskaplike doel opgetree. Die klagstaat lui met betrekking tot die twee aanklagte van moord dat die minimum voorgeskrewe vonnis, lewenslange tronkstraf, van toepassing is.Dit is so omdat die dood van die twee slagoffers vooraf beplan is en omdat die moorde gepleeg is deur ’n groep persone wat saamgesweer het. Met betrekking tot die aanklagte wat verband hou met die onwettige besit van ’n vuurwapen is die voor­geskrewe minimum vonnis gevangenisstraf van 15 jaar. Hennie Bence en Xolile Bodlo is die beskuldigdes se lawyers. Die saak is uitgestel tot 5 November.Die staat het laat blyk hy beoog om altesaam 19 ge­tuies te roep om teen die drie te getuig. Die beskuldigdes bly in aanhouding. Adv. Mujaahid Sanden kla aan.

https://www.son.co.za/Nuus/Ooskaap/trigger-happy-trio-moet-wag-20181016

Reactions

0
0
0
0
0
0
Already reacted for this post.

Reactions

Nobody liked ?

Leave a Reply

Your email address will not be published.