Weerloses ‘vir scam geteiken’ | Die Son

Please log in or register to like posts.
News
Weerloses ‘vir scam geteiken’ | Die Son

HULLE het gedink hulle teken ’n kontrak vir ’n korttermynlening, toe teken hulle al die tyd hul huise weg. Dít is die lot van sowat 20 mense van die noordelike voorstede van Kaapstad wat deur ’n goed georganiseerde sindikaat ingeloop is. Die staat voer aan Jacoba Snyman, Shanaaz Judaar­, Francois Rose en Abdul Suleman is almal lid van dié sindikaat. Die vier loop tans hof. Hulle staan tereg op 60 aanklagte van onder meer bedrog, diefstal, geldwassery en klagte wat hiermee gepaardgaan. Die misdade is van 2007 tot 2013 gepleeg.Snyman was ’n prokureur by ’n firma in Durbanville. Judaar, Rose en Suleman het gewerk vir Finance Eye Global (FEG), ’n onder­neming wat lenings toegestaan het. Volgens hof­dokumente het FEG met Snyman saamgewerk om die mense in te loop. Snyman is intussen dood. Haar rol in die vreeslike klug was glo om die dokumente vir die vals lening op te trek. Sy het na bewering ook namens onwetende kopers aansoek gedoen vir oorbruggingsfinansiering. Die geld het egter nooit by die mense uitgekom nie. Die huiseienaars wat hul huis in die transaksies verloor het, is skugter om te praat, maar sê hulle is dankbaar dat die saak nou voor die hof is. Son verneem die slagoffers van die sindikaat is meestal siek, gestremd en bejaard. “Dit wil voorkom of hulle eers hul huiswerk gaan doen het en dan hul slag­offers uitgekies het,” vertel die broer van een van die slag­offers. FEG het glo self na die mense uitgereik. Die man vertel sy broer was ’n diabeet wat later weens die siekte blind geword het. “Toe hy hoor sy huis is onder hom uitverkoop, het sy gesondheid nog verder agteruitgegaan. Hy is in Julie 2018 dood.”Die saak is op 25 Februarie weer in die handelshof in Bellville.

Reactions

Nobody liked ?

Comments are closed.